‘Wêreld se bekendste swembroek’ word uitgestal

Pamela Anderson se bekende rooi swembroek in Baywatch gaan in Londen uitgestal word. Sy was lewensredder CJ Parker in die gewilde TV-reeks van die 1990’s. Die eenstuk is waarskynlik die wêreld se bekendste swembroek, met nagemaakte weergawes met die Baywatch-logo algemeen aanlyn beskikbaar. Dit sal te sien wees op Design Museum se uitstalling, Splash! A Century of Swimming and Style, wat in Maart open. Anderson is dié week heel die eerste keer vir ‘n Golden Globe benoem vir haar rol in The Last Showgirl.