Burkino Faso se nuwe leier sê orde word herstel

Burkina Faso se self-verklaarde militêre leier, kaptein Ibrahim Traore, sê dat orde in die land herstel word, ná gewelddadige betogings teen die Franse ambassade en dae van gevegte terwyl sy faksie beweeg het om die regering omver te werp. Traore se span het mense aangemoedig om hulle te weerhou van dade van vandalisme by die ambassade. Dit is deur betogers geteiken nadat ‘n beampte betrokke by die voortslepende staatsgreep, beweer het Frankryk het oupresident Paul-Henri Damiba by ‘n Franse militêre basis in die Wes-Afrikaanse land skuiling gebied en dat hy beplan om ‘n teen-aanval te loods. Die Franse ministerie van buitelandse sake het ontken dat die basis Damiba gehuisves het ná sy uitsetting Vrydag. Damiba het ook ontken dat hy by die basis was en sê die berigte is ‘n doelbewuste manipulasie van openbare mening. Sy verblyfplek bly onbekend.