Britse regering sal nie nou na Plan B Covid-maatreëls oorskuif

Brittanje se minister van finansies, Rishi Sunak, sê data toon dit is nie nodig om in hierdie stadium Plan B-maatreëls in werking te stel vir die bekamping van die Covid-pandemie nie. Dit volg na oproepe deur die Arbeidersparty. Volgens die BBC is Plan B daarop gemik om te verhoed dat die Britse gesondheidsdiens onder te veel druk geplaas word. Die maatreëls sluit verpligte Covid-19-paspoorte in. Plan A, wat tans toegepas word, behels onder meer versterkingsdosisse van Covid-inentings vir die kwesbaarste mense en om mense aan te moedig om wel vir inentings te gaan. Sunak sê inentings en die versterkingsdosisse is die beste beskerming.