Brent sak verder terug

Die Brent ru-olieprys het vir ‘n vierde agtereenvolgende dag gedaal weens kommer dat nuwe Covid-beperkings in China, die wêreld se grootste ru-invoerder, die vraag na brandstof sal beïnvloed. Brent verhandel op die oomblik rondom 92 Amerikaanse dollar ‘n vat, en het in die afgelope sewe dae amper 3 persent in waarde verloor. Die vervaardigingsentrum van Guangzhou in China, ‘n stad van 19 miljoen mense, het Donderdag meer as 2 000 nuwe gevalle aangemeld en miljoene inwoners is aangesê om getoets te word, en een stadsdistrik is gesluit. Daar is ook ‘n groot toename in Amerikaanse ruolievoorraad met 3,9 miljoen vate gestyg tot 440,8 miljoen vate, die hoogste sedert Julie 2021. Amerikaanse olieproduksie het met 200 000 vate per dag toegeneem tot 12,1 miljoen vate daagliks.