Brent ru-oliepryse daal steeds, maar daar is uitdagings

Brent ru-olie het in die afgelope maand met amper 20 persent gedaal en in die afgelope week, met 12 persent. Kenners meen dit is as gevolg van vrese van ‘n internasionale resessie na voorspellings deur verskeie entiteite getoon het dat ekonomiese aktiwiteit volgende jaar sal daal. Maar, uitdagings steek weer kop uit. Daar is vrese oor tekorte aan ru-olie na ‘n pyplynbars in Kansas in die VSA en ‘n moontlike herlewing in dele van China se ekonomie na Covid-inperkings gelig is – al is gevalle steeds redelik hoog. Daar is ook toenemende kommer oor skepe wat ru-olie dra wat by Turkye vassit. Daar is uitdagings met versekering-inspeksies na die EU ‘n beperking van 60 Amerikaanse dollar op Russiese olie wat per see vervoer word geplaas het. Die beperking plaas druk op verserkering en Turkye se wetgewing eis dat alle versekering in plek is voor vaartuie na die Middellandse See kan deurbeweeg. Brent verhandel tans rondom 76 Amerikaanse dollar ‘n vat.