Boulter hoor op 15 Julie oor borgappèl

Harvey Boulter, die Britse miljardêr wat van moord aangekla word, sal volgende week Donderdag weet of sy appèlsaak teen die weiering van borg in die landdroshof suksesvol was of nie. Sy regsverteenwoordigers sê die Outjo landdros Immanuel Udjombala het fouteer toe hy borg geweier het. Die landdros het gesê die ernstigheid van die klagte en moontlike inmenging met getuies was redes vir die weiering van borg. Boulter het in sy aansoek melding van die miljoene wat hy belê het in Namibië en sê die familie van Gerhard van Wyk, wat volgens berigte deur hom doodgeskiet is, is soos sy eie familie en hy ken hulle ook reeds meer as tien jaar. Familielede het ook by die borgaansoek getuig dat hulle nie borg vir Boulter teenstaan nie. Boulter was nog nie ‘n dag agter tralies sedert die insident op 27 Februarie plaasgevind het nie. Hy is tans in Paramount-hospitaal in die hoofstad. Die staat sê dat indien die aansoek susksesvol is moet Boulter 1 miljoen Namibiese dollar borg betaal. Boulter het aangedui dat hy bereid is om 200 000 dollar te betaal.