Botswana verbeur eerste wedstryd van Binnenshuise Hokkie Afrika-beker

Die Binnenshuise Hokkie Afrika-beker het afgeskop by MTC The Dome in Swakopmund, tussen gasheer Namibië, Suid-Afrika, Zimbabwe en Botswana. Beide die mans- en vrouespanne van dié lande sal om die topplekke meeding. Die toernooi dien as die Afrika-uitdunne vir die binnenshuise hokkiewêreldbeker, wat volgende jaar in Kroasië plaasvind. Slegs die twee eerste mans- en vrouespanne sal na die wêreldbyeenkoms gaan. Die eerste wedstryd om half-vier tussen Suid-Afrika en Botswana se vrouespanne kon nie voortgaan nie omdat Botswana nie kon speel nie. Suid-Afrika is ‘n 5-0 wen toegeken. Suid-Afrika en Botswana se mansspanne speel tans. Namibië en Zimbabwe se vrouespanne meet om half-sewe kragte, waarna dié lande se mansspanne om 8-uur speel.