Botswana soldate het vissermanne 19 keer geskiet

Die nadoodse ondersoek na die dood van drie Namibiërs en hulle Zambiese neef duur in Botswana voort. Die vier is in November verlede jaar doodgeskiet deur lede van die Botswana weermag by die Chobe-rivier. Die soldate het volgens die verslag oor die lykskouing die vier 19 keer raak geskiet terwyl ‘n totaal van 32 skote afgevuur is. Volgens berigte is die Namibiese getuies reeds Vrydag gevra om terug te keer na die land toe omdat hulle nie meer nodig is by die hof nie. Sinvula Mudabeti van die Namibian Lives Matter-beweging sê daar sal vandag met die aanklaer in die saak vergader word oor hoekom die getuies en familielede weggestuur is. Die weermag hou voet by stuk dat die vier stropers is maar daar is nie enige wapens op hulle gevind nie.