Botswana sal begin met entstofvervaardiging

Die regering van Botswana en Nantworks sal Maandag ‘n lintknip-seremonie hou om die vestiging van NantBotswana, ‘n nuwe entstofvervaardigings-aanleg, van stapel te stuur. NantBotswana is ‘n filiaalmaatskappy van NantWorks, wat in Botswana gestig sal word om entstowwe teen Covid te vervaardig sowel as tegnieke vir kankerbehandeling en selgebaseerde immunoterapies te ontwikkel. Die regering van Botswana en NantWorks het reeds in Desember verlede jaar ‘n memorandum van verstandhouding onderteken wat NantBotswana onder meer in staat gestel het om ‘n entstofvervaardigingsfasiliteit by die Botswana Digital and Innovation Hub op te rig. Die inisiatief sal volgens die buurland se regering ook bydra tot die pogings om Botswana se ekonomie na ‘n kennisgebaseerde ekonomie te transformeer. Nantworks LLC is ‘n Amerikaanse konglomeraat wat in 2007 gestig is. NantWorks pas nuwe innoverende benaderings en nuwe tegnologieë toe om globale probleme op te los.