Botswana het moordenaar vanoggend tereggestel

Botswana se gevangenisdiens het aangekondig dat Phemelo Botogeleng, 34 jaar oud, vandag tereggestel is vir die moord op sy vriendin Anna Simon en hulle kind Atang Simon. Die moord het op 5 Mei in 2011 plaasgevind en hy is ter dood veroordeel op 28 Julie verlede jaar. Hy het appèl aangeteken wat op 10 Februarie vanjaar deur die Hooggeregshof van die hand gewys is. Luidens berigte uit die buurland is die moord aangevuur deur jaloesie en Simon het hom vermoedelik verneuk. Hy is 15 jaar tronkstraf vir haar dood opgelê maar het die doodstraf vir die moord op die kind ontvang. Geen verdere besonderhede is oor die partye of die misdaad bekend nie.