Borgtog geweier aan beskuldigde wat vrou glo aan die brand steek

Borgtog is vandag in die Keetmanshoop-landdroshof aan Isabella Eises geweier nadat sy glo ‘n vrou aan die brand gesteek het en die vrou later aan haar brandwonde beswyk het. Die 38-jarige Eises het glo petrol op Linda de Wee gegooi en haar aan die brand gesteek, omdat sy geglo het De Wee is in ‘n verhouding met haar man. Die voorval het Sondag in die Gainachas-nedersetting in die Karas-streek plaagevind en De Wee het Maandag aan haar brandwonde van 60 persent beswyk. Die beskuldigde bly in aanhouding, omdat die polisieondersoek voortduur. Sy sal op 10 November weer in die hof verskyn vir haar voorverhoor.