Boks: Gerrie Coetzee verloor sy stryd teen kanker

Boks: Die gewese Suid-Afrikaanse swaargewig-kampioen van die Wêreld-boksvereniging, Gerrie Coetzee, is op 67-jarige ouderdom dood. Coetzee wat as die Boksburg Bomber bekend gestaan het, het sy stryd teen kanker verloor. Hy was een van Suid-Afrika se grootste boks-legendes. Gerrie het in 1983 die eerste swaargewig wêreldkampioen van Suid-Afrika geword. Hy het in 1979 teen John Tate en in 1980 teen Mike Weaver misluk om die WBA-titel in te palm, maar die derde keer het hy seker gemaak van ‘n oorwinning deur in 1983 Michael Dokes in die tiende ronde met ‘n uitklophou teen die planke te bring. Die oorwinning het hom Suid-Afrika se heel eerste swaargewig-titelhouer gemaak. In 40 gevegte het hy 33 gewen, ses verloor en een het gelykop geëindig.