Boere word in nuwe slenter geteiken

Die Namibiese Landbou-unie sê slenters steek kop uit op die arbeidsfront. In sy weeklikse nuusbrief sê die unie persone word geskakel deur mense wat hulself as lede van die polisie of arbeidskantoor voordoen. Hulle beweer dan dat ’n werker onregverdig ontslaan of aan die polisie oorhandig is en dat hulle nou ’n lasbrief vir die boer se inhegtenisname het. Hulle eis dan ’n sogenaamde skulderkenningsbetaling van die boer om sy inhegtenisname te laat vaar. Die unie waarsku sy lede om op hul hoede te wees. Geen wettige inhegtenisname kan ooit gou met ’n betaling geskik word nie. Die polisie het geen wetlike magte om enigsins arbeidsdispute te hanteer nie. Arbeidsdispute kan slegs deur arbeidskantore hanteer word en daarvoor is daar voorgeskrewe prosedures wat skriftelike kennisgewing insluit.