Boeing bied hulp aan China na vlugramp

Die uitvoerende hoof van Boeing, Dave Calhoun, sê tegniese kenners is bereid om die Burgerlugvaartowerheid in China te help met die ondersoek na die vliegongeluk waarin ‘n 737-800-vliegtuig van die lugdiens China Eastern neergestort het. Die Chinese passasiersvliegtuig met 132 mense aan boord het in bebosde heuwels in die suide van China neergestort. President Xi Jinping het ‘n onmiddellike ondersoek na die oorsaak van die ongeluk gelas. China Eastern het vlugte van al sy 737-800’s opgeskort. Calhoun sê hulle werk saam met hul lugdiens-kliënt en is gereed om hom by te staan.