Biden vra groen lig vir wapentransaksie met Taiwan

Amerikaanse President Joe Biden se administrasie het die Amerikaanse kongres gevra om ‘n wapentransaksie van 1,1 miljard Amerikaanse dollar met Taiwan goed te keur. Dit sal die verkoop van 160 missiele insluit wat in lugaanvalle teen skepe gebruik kan word. China tree al hoe meer dreigend teenoor die eiland op nadat die Amerikaanse speaker, Nancy Pelosi, en ander regeringsverteenwoordigers Taiwan vroeër die maand besoek het. Taiwan het China vroeër van herhaaldelike teistering beskuldig omdat onbemande vliegtuie van dié land daagliks baie naby aan sy grense vlieg. China sê dit is niks om ‘n bohaai oor op te skop nie.