Biden is uiters tevrede met tussenverkiesing

Die Amerikaanse President Joe Biden sê hy is uiters tevrede met die uitkoms van die tussenverkiesing. Die Demokrate het beheer oor die Senaat behou ná die deurslaggewende wedloop in Nevada met 50 setels teenoor die Republikeine se 49. Beheer van die Huis van Verteenwoordigers is nog steeds onseker en tans is die Republikeine op 212 met die Demokrate op 204 – 218 is nodig vir ‘n meerderheid. Stemme word steeds getel in sleuteldistrikte in sommige state, insluitend Kalifornië, Arizona en Oregon, met groot aandele posstemme. Die verkiesing vir goewerneur van Arizona word fyn dopgehou met die Demokraat Katie Hobbs wat tans met 50,5 persent voorloop teen die Trump-kandidaat, Kari Lake se 49,5 persent.