Batsirai dood 120 in Madagaskar

Die dodetal in Madagaskar weens die tropiese storm Batsirai het tot minstens 120 gestyg. Die eilandstaat se nasionale rampbestuursagentskap sê 87 mense het in die Ikongo-distrik naby die ooskus van die eiland in die Indiese Oseaan omgekom. Die sikloon het verlede naweek toegeslaan en sowat 30 000 mense word in tydelike skuilings gehuisves. Hulpagentskappe is bekommerd oor die verskaffing van genoeg drinkwater en het begin om suiweringstelsels op te rig.