Basadi in Kavango Oos geloods, terwyl bendes amok saai

Die Namibiese polisie in die Kavango Oos-streek het Operasie Basadi van stapel gestuur. Die operasie fokus veral op die bewusmaking van kwessies van geslagsgeweld. Die streek se misdaadondersoek koördineerder, adjunkkommissaris Bonifatius Kanyetu sê dat die operasie kinderbeskerming ook bevorder maar dat daar ook reaksie sal wees op ander misdade. Kanyetu sê een van die streek se grootste uitdagings is ouers wat roekeloos by kroeë en sjebiens drink – wat baie jong kinders kwesbaar laat vir mishandeling en verwaarlosing. Sy aanmerkings kom kort op die hakke van berigte dat bendes die strate van die streek se hoofstad Rundu oorgeneem het. Die bendes, seuns tussen die ouderdomme van 13 en 18, terroriseer inwoners en selfs polisielede wat nie aan diens is nie, wat bewys is van hoe gevaarlik die seuns is.