Banyana Banyana verloor teen Brasilië

Sokker: Die Afrika-nasiesbeker-kampioene vir Vroue, Banyana Banyana, het Vrydagaand geen antwoord gehad op die vaardighede en ervaring van Brasilië se nasionale span nie. Die Suid-Afrikaners het in die Orlando-stadion met 3-0 verloor teen die wenners van die Copa America Femenina in die eerste van twee geskiedkundige vriendskaplike wedstryde. Banyana kry Maandag met die tweede vriendskaplike wedstryd in Durban die geleentheid om die nederlaag te wreek. Die afrigter Desiree Ellis sê hulle het baie geleer uit die wedstryd teen Brasilië en is vasbeslote om Maandag beter te vaar.