Babi en kie weer in die hof vandag

Die woordvoerder van die Namibiese omgewingsministerie, Romeo Muyunda, het bevestig dat die selfverklaarde profeet Jackson Babi se renosterstropery-verhoor vandag in die Gobabis-landdros sal plaasvind. Die saak spruit uit twee renosterhorings wat in Mei 2020 op Otjiwarongo gekonfiskeer is tydens ‘n spesiale polisie-operasie, asook twee renosterhorings en ‘n geweer wat in die huis van Babi in die Kleine Kuppe-woonbuurt in Windhoek gevind is. Daardie klopjag is ook einde Mei 2020 uitgevoer en het gevolg ná twee vars renosterkarkasse op ‘n plaas in die Omaheke-streek ontdek is. Volgens Muyunda is die twee renosterstropery-sake met mekaar deur ballistiese en DNS-bewyse verbind en saamgevoeg vir die verhoor.