‘Veediefstal neem af in Namibië’

Die Namibiese polisie se adjunkhoof, generaal-majoor Joseph Shikongo, wil veediefstal in Namibië hokslaan en hy het verskeie vergaderings in dié verband in verskillende streke met belanghebbendes gehou. Hy sê hy is tot dusver gelukkig met wat bereik is en veediefstal het afgeneem. Maar Shikongo het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die veediefstalkrisis is ver van verby en hy sal graag in ander streke met die vergaderings wil voortgaan sodra die Covid-pandemie iets van die verlede is.

Shikongo stem saam met die Namibiese omgewingsminsiterie dat wildstropery in Namibië afgeneem het, veral in Namibiese nasionale parke. Hy sê die teenwoordigheid van wetstoepassers in parke, het ‘n groot rol in die afname gespeel.


Namibiese vleisbedryf steeds in herstelfase

Die Vleisraad het sy midjaarsyfers bekendgestel wat aandui dat die vleisbedryf steeds in ‘n herstelfase is. ‘n Totaal van 94 868 beeste is tydens die eerste helfte van die jaar bemark, 25,15 persent minder as dieselfde tydperk verlede jaar en 53 persent laer as die vyf-jaar-gemiddeld. Die verskil in speenkalfpryse en ospryse, laer risiko, vinniger kontantvloei en prysmededinging van Botswana, versterk die beweging na speenkalfproduksie. ‘n Totaal van 220 045 skape is in die afgelope ses maande bemark, 47 persent minder as dieselfde tydperk in 2020. Hoë skaappryse het weerstand onder verbruikers begin skep, gegewe die verminderde besteebare inkomste as gevolg van die Covid-pandemie en die beweging na goedkoper proteïenbronne. Landbou-kenner, Wallie Roux, deel sy mening oor die verslag met Kosmos 94.1 Nuus.


Pulmonoloog beveel Covid-inenting aan

Namibië het tydens die derde vlaag van die Covid-pandemie talle lewens verloor. Op die oomblik dui statistieke aan dat gevalle besig is om af te neem. In ander lande kan mense weer in die publiek groot geleenthede bywoon en volgens berigte is dit weens kudde-immuniteit. Namibiese pulmonoloog, dr. Willie Bruwer sê die motivering vir Namibiërs om weer na hul normale lewens terug te keer, is om ingeënt te word.


Kuberaanval op Transnet kan lei tot voedselkrisis

Die kuberaanval op Transnet word beskou as ‘n moontlike voedselkrisis. Dit is volgens die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders wat eis dat die Suid-Afrikaanse departement van landbou dadelik ‘n aksieplan bekend stel. Die vereniging sê noudat die Durbanse hawe weer werksaamhede hervat het, is ‘n plan nodig om seker te maak houers met bederfbare voedsel word na binnelandse verkoelingsgeriewe geneem. Die vereniging se uitvoerende hoof, Paul Matthew, sê daar is tans 290 verkoelingshouers wat dringend geberg moet word.


Veldhospitaal by Windhoek Sentrale Hospitaal geopen

Namibiese eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila het vandag ‘n Covid-veldhospitaal met 70 beddens by die Windhoek Sentrale Hospitaal amptelik geopen. Die veldhospitaal is ‘n inisiatief van die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid saam met die private sektor.  Kuugongelwa-Amadhila het gesê die regering is besig om isolasiegeriewe regoor die land op te rig wat tussen einde Augustus en Oktober vanjaar voltooi behoort te wees. Sy het gesê daar is tans  1 732 beddens landwyd in openbare en private hospitale, waarvan 143 in intensiewesorgeenhede is.  


Ramptoestand in KwaZulu-Natal verklaar

Die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, sê die provinsie het besluit om ‘n ramptoestand te verklaar. Dit volg kort na die onlangse oproerigheid en plundering wat skade van miljarde rande veroorsaak het aan ondernemings en winkelsentrums sowel as openbare infrastruktuur. Afgevaardigdes van die Verenigde Nasies het vandag met Zikalala vergader om die skade wat veroorsaak is, te beoordeel. Meer as 300 mense het gesterf tydens die geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng. Voedselsekerheid in KwaZulu-Natal hou tans ‘n bedreiging in. 


Wes-Kaap: Wetstoepassers gaan die naweek waaksaam wees

Wetstoepassingsagentskappe in die Wes-Kaap sal die naweek ekstra waaksaam wees en seker maak hospitale word nie oorval met trauma-gevalle nie. Dit is volgens die provinsie se premier, Alan Winde, wat tydens ‘n nuuskonferensie die publiek gevra het om druk op die openbare gesondheidsdienste hanteerbaar te hou. Winde sê hy het met die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Alfred Fritz, en munisipale owerhede vergader om ‘n streng program vir die komende naweek te ontwikkel.


Olympia-poskantoor skuif na Grove Mega Centre

NamPost het aangekondig dat sy poskantoor in Olympia in die hoofstad na die nuwe perseel van Grove Mega Centre in die Kleine Kuppe-woonbuurt op 2 Augustus gaan verskuif. Wilson Shikoto, die kommunikasiebestuurder van NamPost, sê die posbusse by Olympia bly daar en sal steeds vir kliënte beskikbaar wees.


Covid-gevalle neem af in Namibië

Die Namibiese gesondheidsministerie het 43 Covid-sterftes in 14 distrikte aangekondig, asook 326 nuwe gevalle uit 1 806 toetsuitslae, wat ‘n positiewe koers van 18 persent is. Daar is 29 leerders, drie onderwysers en 13 gesondheidswerkers in die groep. Daar is nou 20 503 aktiewe gevalle, waarvan 400 pasiënte gehospitaliseer is en 80 in intensiewesorgeenhede is. Die adjunkminister van gesondheid, dr. Esther Muinjangue, gee die jongste Covid-syfers.


Beperkte Covid-entstowwe in Wes-kaap

Daar is tans ‘n beperking met die voorsiening van entstowwe in die Wes-Kaap, wat toegeskryf kan word aan meer beskikbare persele. Die hoof van die provinsiale departement van gesondheid, Keith Cloete, het tydens ‘n nuuskonferensie gesê nog entstof is op pad en inwoners moet geduldig wees indien daar ‘n tekort is by sekere persele. Hy bevestig die teiken van 150 000 per week word steeds gehandhaaf.