Assange terug in die hof vir VSA-appèl

Die Amerikaanse regering se appèl teen die weiering van die uitlewering van WikiLeaks se stigter Julian Assange word vandag in Brittanje aangehoor. Regter Vanessa Baraitser het in Januarie vanjaar die aansoek vir uitlewering geweier omdat sy bevind het dat Assange moontlik selfmoord in ‘n Amerikaanse tronk sou pleeg. Amerikaanse owerhede wil Assange vervolg vir die grootste openbaring van geklassifiseerde militêre dokumente in die Amerikaanse geskiedenis. Die voormalige president Donald Trump het sy uitlewering geëis. Tydens die Obama-administrasie, met Biden as vise-president, is daar besluit om nie sy uitlewering aan te vra nie. Hy word op die oomblik in Belmarsh aangehou.