Angolese vlugtelinge neem toe

Die goewerneur van die Omusati-streek Erginus Endjala het vroeër die maand bevestig dat daar net meer as 2 500 Angolese vlugtelinge in sy streek is wat skuiling soek. Volgens plaaslike media het die getalle nou tot ongeveer 3 000 toegeneem, vermoedelik oor die vererging in die droogte toestande in die Suide van Angola. Die groep kamp uit by Etunda en het skuilings van plastiek, papier en meer opgerig. Daar is ongeveer 1 500 kinders onder die ouderdom van 12 in die groep. Die Angolese konsulaat in Oshakati het onlangs die kamp besoek om die mense te registreer met die oog op repatriasie. Berigte lui dat duisende vlugtelinge die land binnegekom het en talle het reeds na verskeie dorpe gereis op soek na werk.