Angolese soek Namibiese dokumente

Plaaslike media berig dat honderde Angolese burgers in die Ohangwena-streek aansoek doen vir Namibiese identiteitsdokumente. Die mense sê hulle registreer as staatlose mense nadat hulle Angola gevlug het as gevolg van erge droogtetoestande. Luidens die berigte het owerhede plaaslike leierskap gevra om persone sonder dokumente wat in hulle nedersettings woon, te registreer. Owerhede in die streek sê van die Angolese burgers wat aansoek wil doen vir Namibiese dokumente is in besit van Angolese identiteitsdokumente en sê hulle woon reeds sedert die burgeroorlog in die buurland uitgebreek het in Namibië. Alleenlik buitelanders wat tussen Januarie 1978 en 20 Maart 1990 in Namibië woonagtig was kan Namibiese dokumente bekom. Alle Angolese burgers het reeds gratis toegang tot die staat se mediese dienste in Namibië.