Angolese skiet glo op seekoeie aan Namibiese kant in Okavangorivier

Die eienaar van Shamvura Camp naby Rundu Mark Paxton het ‘n skietvoorval op seekoeie in die Okavangorivier by Kayova River Lodge aan die Namibiese polisie en omgewingministerie gerapporteer. Hierdie lodge is net stroom-af van die Kashipi-grenspos en polisiestasies van Namibiese en Angolese grenspolisie. Volgens Paxton het mense op ‘n Angolese regeringsboot met AK-47-aanvalsgewere op ‘n familie seekoeie aan die Namibiese kant van die rivier geskiet. Hy sê die Kashipi-polisiekommissaris het egter verklaar dat die Angolese regering hulle toestemming gegee het om ‘n seekoei dood te maak nadat die seekoei glo iemand aangeval het.