ANC verwelkom paneel wat Russiese skip ondersoek

Die ANC het die aanstelling van ‘n onafhanklike paneel van drie lede verwelkom om die omstandighede te ondersoek rondom die vasmeer van die Russiese vaartuig Lady R in Desember in Simonstad. President Cyril Ramaphosa het afgetrede regter Phineas Mojapelo as voorsitter en advokaat Leah Gcabashe en Enver Surty as lede van die paneel aangestel. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die paneel sal help om die saak op te los. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die paneel sal onder meer ondersoek instel na wie bewus was van die vaartuig se aankoms en enige vrag wat op- of afgelaai is.