ANC-jeug betoog buite VSA-ambassade

Lede van die ANC-jeugliga se taakspan het buite die Amerikaanse ambassade in Tshwane betoog. Hulle vra geregtigheid nadat Amerikaanse polisie Lindani Myeni wat in KwaZulu-Natal gebore is, verlede week doodgeskiet het. Die polisie in Honolulu in Hawaii sê hulle het gereageer op ‘n oproep van ‘n inbraak wat aan die gang is toe Myeni doodgeskiet is. Volgens die polisie het ‘n skermutseling uitgebreek en die drie beamptes het eers probeer om die situasie sonder geweld te ontlont. Hulle het eers ‘n skokwapen gebruik voordat hulle skote op Myeni afgevuur het. Die betogende groep sê die regering moet optree.