ANC-hoofsweep aanvaar verskoning in PAP
Die ANC-hoofsweep, Pemmy Majodina, het ‘n verskoning deur ‘n mede-lid van die Pan-Afrika Parlement aanvaar. Sy het gesê sy gaan nie ‘n kriminele klag aanhangig maak nie. Dit volg nadat sy byna in die gesig geskop is toe sy ‘n onderonsie wou verhoed. Lede het gister tydens ‘n Pan-Afrika-parlementsitting in Midrand, Gauteng, handgemeen geraak toe ‘n nuwe leier vir die kontinentale liggaam verkies moes word. Majodina sê sy het geen probleem om die verskoning te aanvaar nie, aangesien dit ‘n hittige stryd was.