Analise oor derde vlaag word gedoen

‘n Totaal van 2 227 Namibiërs het tydens die derde vlaag van die Covid-pandemie hulle lewens verloor uit ‘n totaal van 3 300 sedert die virus in die land bevestig is. Volgens berigte het 1 501 hulle lewens in Julie verloor en 726 in Junie. Die uitvoerende direkteur van die gesondheidsministerie, Ben Nangombe, het bevestig dat ‘n analise van die uitdagings tydens daardie twee maande nou gedoen word in ‘n poging om beter te beplan. Die land het tekorte van suurstof, hospitaalbeddens, grafte en spasie in lykshuise ervaar. Gevalle het nou afgeneem en hospitale sê daar is ‘n afname van 70 persent in opnames en sale is ongeveer 60 persent vol. Nangombe het steeds sy kommer uitgespreek oor die verskuiwing van infeksies vanaf Khomas en Erongo na die noorde van die land toe, veral omdat die gebied digbevolk is en moontlik tot ‘n vierde vlaag van infeksies kan lei.