Amushelelo, Nauyoma weer in die hof vandag

Die twee omstrede aktiviste Michael Amushelelo en Dimbulukeni Nauyoma, wat saam met ses ander aangekla word in verband met betogings in Mei by China Town in Windhoek, se saak kom weer vandag in die Katutura-landdroshof voor. Die saak is tot vandag toe uitgestel deur landdros David Mukuyu vir die besluit deur die aanklaer-generaal. Dit volg ná hul regsverteenwoordiger, Kadhila Amoomo, aansoek gedoen het om die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956, waarvolgens die beskuldigdes aangekla word, te betwis. Hy het vroeër tydens pleitverrigtinge in die Windhoekse landdroshof in Katutura aangevoer dat die wet hul grondwetlike regte skend. Al die beskuldigdes het onskuldig gepleit op die aanklagte.