Amushelelo eis senior advokaat, en regshulp moet betaal

Die omstrede Michael Amushelelo en sy medebeskuldigde in die geldwassery en korrupsie-saak Gregory Cloete, eis dat hulle ‘n senior advokaat kry vir hul verdediging en dat regshulp daarvoor moet betaal. Hulle het onlangs aansoek vir regshulp gedoen omdat hulle fondse blykbaar uitgeput is. Hulle prokureur Kadhila Amoomo het die hoërhof vir uitstel gevra sodat regshulp hulle aansoek vir ‘n senior advokaat kan oorweeg. Adjunk-regterpresident Hosea Angula het die saak tot 29 September uitgestel maar gewaarsku dit is die laaste uitstel vir regshulp. Die twee moet meer as 30 klagte verdedig. Amushelelo se talle bates is deur die staat gevries na hy en sy vennoot Gregory Cloete van geldwassery en ander verwante klagte aangekla is. Op ‘n stadium was hy tussen 1 en 5 miljoen Amerikaanse dollar werd. Hy was ‘n handelaar in buitelandse valuta. Intussen is hy ook uit op borg rakende die saak van aanhitsing van openbare geweld by Chinatown.