Amoomo sê invloedryke gay mans moet na vore tree

Die bekende regsman Kadhila Amoomo het sy stem bygevoeg by diegene wat geskok is dat die prokureur-generaal, Festus Mbandeka, sê die meeste Namibiërs ondersteun die wet teen sodomie in die land. Mbandeka het stukke by die hof ingedien in ‘n saak waar die wet deur ‘n LGBT-aktivis uitgedaag word. Volgens Mbandeka ontken hy dat die blote bestaan van die sodomiewet die stigmatisering van gay mans bevorder. Indien hierdie mans aan enige stigma ly, is dit as gevolg van hul keuse om betrokke te raak by seksuele gedrag wat as moreel taboe in ons samelewing beskou word. Amoomo sê die regering se homofobie is irrasioneel veral omdat die gay-gemeenskap in die land propvol ouer mans is wat baie invloedryk is en in top-posisies dien. Hulle is skatryk en goed opgevoed. Dus meen hy, hulle moet die saak opneem en die stelsel in die openbaar beveg. Hy vra ook hoekom daar net jongmense by protesaksies is. Hy sê Namibië het dapper mense nodig. Intussen meen kenners dat Mbandeka homself eintlik skuldig maak aan meineed omdat hy sy persoonlike opinie as feit voor die hof gestel het.