Amerikaner aangekla wat met vliegtuig in Wallmart wou vasvlieg

Die vlieënier van ‘n klein vliegtuig wat gedreig het om dit in ‘n Walmart-winkel in Mississippi in die VSA neer te stort, het sonder enige beserings geland. Die polisie-departement in Tupelo, Mississippi, het vroeër gesê hulle het direk met die vlieënier gepraat en die Walmart en vulstasie ontruim. John Quaka, die polisiehoof van Tupelo, het gesê die verdagte, Cory Wayne Patterson, was verantwoordelik vir die hervulling van brandstof van vliegtuie. Terwyl Patterson blykbaar ‘n mate van vlieg-opleiding gehad het, was hy nie ‘n gelisensieerde vlieënier nie, het Quaka op ‘n nuuskonferensie gesê. Patterson is in aanhouding en word aangekla van diefstal en die maak van terrorisme-dreigemente. Quaka het bygevoeg dat Patterson ook federale aanklagte in die gesig kan staar.