Amerikaanse fluitjieblaser kry Russiese paspoort

Die Amerikaanse fluitjieblaser en voormalige inligtingskontrakteur, die 39-jarige Edward Snowden, het ‘n eed van getrouheid teenoor Rusland afgelê en Russiese burgerskap gekry. Russiese President Vladimir Putin het Snowden se burgerskap en verkryging van ‘n Russiese paspoort goedgekeur. Snowden, ‘n gewese werknemer van die Amerikaanse nasionale veiligheidsagentskap, het in 2013 opslae gemaak toe hy na Hongkong gevlug en geklassifiseerde spioenasie-dossiere aan die media oorhandig het. Sy Amerikaanse paspoort is teruggetrek en hy het na Rusland gevlug waar hy politieke asiel gekry het. Snowden, sy vrou Lindsay Mills en hul twee seuns wat in Rusland gebore is, bly op ‘n onbekende plek op die Russiese platteland.