Alweendo se Uis-vergadering oor litium verloop baie goed

Die vergadering met lede van die Daures-gemeenskap op Uis het volgens die ministerie van myne en energie goed afgeloop. Minister Tom Alweendo het die nedersetting besoek na die inwoners opgeruk het oor wat hulle beskryf as onwettige litium-mynbedrywighede, veral in verband met die Chinese Xinfeng-myn in die gebied. Alweendo het die gemeenskap toegespreek en gesê enige onwettige bedrywighede sal nie geduld word nie. Hy het ook Namibiërs gemaan om nie hul aandeel in plaaslike eksplorasie-lisensies te verkoop nie, maar ten minste iets te behou, al is dit net ‘n 15 persent aandeel. Die gemeenskap word deur Jimmy Eiseb gelei en hy het ‘n versoekskrif aan Alweendo oorhandig. Hy is genooi om direk met Alweendo in die hoofstad in gesprek te tree sodat die gemeenskap se besware aangehoor en aangespreek kan word. Alweendo het in November ‘n moratorium op litium-uitvoere geplaas na die Xinfeng-projek in omstredenheid gehul was.