Alweendo ontmoet oor onwettige brandstof

Die Namibiese minister van myne en energie Tom Alweendo sal Maandag ‘n openbare vergadering op Oshikango hou oor die verkoop en berging van onwettige brandstof. Die brandstof, wat vanuit Angola ingesmokkel word, voldoen nie aan Namibiese standaarde nie en kan volgens die huidige wetgewing nie in Namibië gebruik word, vervoer word of geberg word nie. Die bergingsmetodes word ook as primitief beskou omdat dit nie professioneel gehandhaaf word nie en dus is dit baie gevaarlik. Die regering verloor ook inkomste met die verkoop van onwettige brandstof en vulstasies loop die risiko van afleggings. Alweendo het reeds in 2018 ‘n inligtingsveldtog teen onwettige brandstof van stapel gestuur. Tussen 2015 en 2018 het Nampol beslag gelê op net meer as 4 700 liter van die brandstof en vyf mense is dood as gevolg van die onveilige berging daarvan.