Al Jazeera nader strafhof oor Abu Akleh

Die televisienetwerk Al Jazeera het ʼn amptelike versoek teen Israeliese magte by die Internasionale Strafhof ingedien oor die dood van die joernalis, Shireen Abu Akleh. Die Palestyns-Amerikaanse joernalis is in Mei tydens ʼn Israeliese klopjag in ʼn vlugtelingkamp aan die buitewyke van die stad, Jenin, op die besette Wesoewer in die kop geskiet. Die kanaal wat in Katar gebaseer is, sê sy voorlegging bevat nuwe inligting van getuies en video-materiaal wat duidelik wys die Israeliese besettingsmagte het direk na Abu Akleh en haar kollegas geskiet.