Afrika-beraad om tekorte aan te spreek

Die Franse President Emmanuel Macron sal môre ‘n virtuele Internasionale Spitsberaad van Europese en Afrika-leiers aanbied oor die stimulering van Afrika se ekonomieë. Die doel is om finansiële bronne beskikbaar te stel wat die ekonomie van die vasteland kan laat herleef, waar slegs 130 000 mense, volgens amptelike syfers, weens Covid-19 omgekom het. Die spitsberaad sal 30 staatshoofde en regeringsleiers in ‘n videokonferensie byeenbring. Dit was aanvanklik vir verlede jaar beplan, nadat die Internasionale Monetêre Fonds bereken het dat Afrika-ekonomieë gevaar staan om teen 2023 ‘n oorhoofse finansiële gaping van 290 miljard Amerikaanse dollar te toon.