Afgetrede polisie-inspekteur dood na onderonsie met vermeende stroper

‘n Afgetrede hoofinspekteur van die Namibiese polisie is dood na hy in die nek met ‘n spies gesteek is naby Omatako in die Tsumkwe-wes-omgewing. Die 26-jarige verdagte is gearresteer en die polisie is nog besig om klagte teen hom te finaliseer. Volgens die misdaadondersoek koördineerder vir Otjozondjupa, adjunkkommissaris Naukalemo Andreas het die 62-jarige Peter Nepunda twee mans op sy grond gesien met ‘n pyl en boog en ‘n spies. Toe hy hulle konfronteer het een man, blykbaar die verdagte se pa, hom probeer skiet met die pyl en boog wat Nepunda toe met sukses afgevat het. Hy is toe deur die jonger man in die nek gesteek. Sy haelgeweer is ook gesteel toe die twee weggehardloop het. Nepunda is op die toneel dood.