Adjunkminister Nawatiseb verkoop na bewering huis onwettig

Die adjunkminister van openbare ondernemings Engelbrecht Nawatiseb word saam met verskeie ander vandag voor die hof gedaag deur die likwidateurs van die bankrot SME Bank. In die stukke voor regter Orben Sibeya sê die likwidateurs dat Nawatiseb en sy vrou op 10 November 2015 1,4 miljoen Namibiese dollar by die bank geleen het en hulle huis se verband gesedeer aan die bank vir sekuriteit. Teen die tyd wat die SME Bank in September 2018 aansoek gedoen het vir uitstaande betalings en ‘n beslissing vir die beslaglegging van die eiendom op 19 Oktober 2018 ontvang het, was die eiendom reeds verkoop. Die eiendom is volgens die likwidateurs reeds in November 2017 oorgedra aan die nuwe eienaar wat ook as respondent gelys is. Die verkoop van die eiendom was onwettig volgens die likwidateurs omdat die verband aan die SME Bank sedeer was. Saakbeplanning sal vandag plaasvind.