Acsa het swakste finansiële syfers in 28 jaar

Die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy, Acsa, het sy swakste finansiële syfers in dié staatsbeheerde maatskappy se bestaan van 28 jaar bekend gemaak. Die verlies vir die boekjaar wat op 31 Maart geëindig het, beloop 2,6 miljard rand. Die uitvoerende hoof, Siphamandla Mthethwa, sê dit moet gesien word teen die agtergrond van die vernietigende uitwerking wat die Covid-pandemie wêreldwyd op lugvaart gehad het. Dit is slegs die tweede keer dat Acsa ‘n verlies toon en voor die pandemie was dit in ‘n sterk finansiële posisie. Aan die begin van die pandemie het die maatskappy bates van 32 miljard rand gehad.