Abe-sluipmoord: Polisiehoof bedank

Die hoof van Japan se nasionale polisie-agentskap, Itaru Nakamura, het vandag bedank nadat ’n ondersoek “tekortkominge” in die veiligheidsplanne vir die vermoorde voormalige premier Shinzo Abe bevestig het. Risikobepalings is ook nie gedoen nie. Hy voeg by dat die wortel van die probleem in die beperkings van die huidige stelsel lê, waarin die plaaslike polisie alleen verantwoordelikheid dra om sekuriteit te verskaf. Nakamura sê hy sal verantwoordelikheid vir die mislukkings aanvaar en uit sy pos as polisiehoof tree. Abe is op 8 Julie in die Nara-streek doodgeskiet. Sy vermeende moordenaar is op die toneel gearresteer en het glo Abe geteiken omdat hy gedink het hy is aan die Unification Church verbind.