Aap-pokke: Suid-Afrikaners met simptome moet hospitaal besoek

Die Suid-Afrikaanse kabinet het mense met simptome van aap-pokke, soos koors gevolg deur ‘n uitslag met blase, aangeraai om hul naaste hospitaal te besoek. Dit volg nadat die gesondheidsdepartement in Limpopo ‘n geval van die siekte by ‘n 42-jarige manlike toeris van Switserland bevestig het. Dit is die derde geval in die land. Die LUR, Phophi Ramathuba, sê drie mense wat met die pasiënt in aanraking was, is reeds geïdentifiseer. Regeringswoordvoerder, Phumla Williams, sê die Departement van Gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes werk saam met die Wêreldgesondheidsorganisasie om die risiko vir plaaslike oordrag te bepaal.