Aansoek oor aanhouding van kripto-lot vandag aangehoor

Die dringende aansoek in verband met die beweerde onwettige aanhouding van 13 beskuldigdes in die sogenaamde kripto-bedrogspul, sal tien-uur deur regter George Coleman aangehoor word. Die eerste uit 13 aansoekers, Toivo Herman, se stukke is uitgebrei. Hy sê hy is ‘n werknemer by Raylon Investments en die polisie het die nag van 3 Oktober by sy werkplek aangekom. Dit was net na tien-uur en hy was besig tydens ‘n nagskof. Hy sê hy is ‘n beampte by menslike hulpbronne by die maatskappy. Hy sê hy is 17 minute na tien-uur gearresteer omdat die dokumentasie van goedere op die toneel wat deur die polisie ingevul en ingedien is, die tyd aandui. Maar, die polisie se operasie in die kantoor is eers ses-uur die oggend van 4 Oktober voltooi en hy sê hulle was aangehou en onder arres gedurende die tyd. Hy is eers teen vyf-uur die middag van die 4de formeel ingeteken by die gevangenis. Die kern van die aansoek is dat die aanhouding van die groep na vier-uur op 5 Oktober onwettig was. Hulle het eers op 6 Oktober verskyn.