Oranjemund sê Namdeb skuld hom N$121m

Die Oranjemund-dorpsraad sê Namdeb skuld hom 121 miljoen Namibiese dollar in huurgeld sowel as die verkoop van grond. Luidens berigte is daar in 2018 ‘n ooreenkoms onderteken vir die verkoop van die mynmaatskappy se huise en kommersiële eiendomme en die regering het in Julie 2018 toestemming gegee vir die verkoop van 1 126 erwe. Namdeb is tot Julie 2019 gegee om die eiendomme te betaal en oor te dra. Indien eiendom nie verkoop was teen die sperdatum nie sou alle huurgeld aan die dorpsraad oorbetaal moet word. Namdeb het intussen aan media bevestig dat die huurgeld wel uitstaande is maar, voeg by dat al die ander fondse reeds oorbetaal is.