Rusland: Genetiese toetse uitgevoer om slagoffers se identiteit te bepaal
Die Russiese regering sê hy het tien liggame en vlugopnemers gevind op die toneel waar ‘n privaat straler Woensdag noord van Moskou neergestort het. Die leier van die Wagner-huursoldategroep, Jevgeny Prigozhin, was vermoedelik op die vliegtuig. Volgens die Russiese owerheid word genetiese toetse gedoen om die identiteit van die slagoffers te bevestig. ‘n Woordvoerder van die Kremlin, Dmitry Peskov, het bespiegelings dat President Vladimir Putin of die regering ‘n aandeel in die voorval kon gehad het, afgemaak as leuens. Hy sê daar is baie onsekerheid oor die gebeure en die feite moet eers uitgeklaar word.