Russiese media sê Wagner-hoof is dood in vliegongeluk

Die Wagner-hoof Yevgeny Prigozhin is onder die lys passasiers aan boord van ‘n vliegtuig wat in die Tver-streek, noord van Moskou, neergestort het. Die Russiese ministerie van noodgevalle sê die vliegtuig was van Moskou na St. Petersburg onderweg, en al tien mense aan boord, insluitend drie bemanningslede, is dood. Prigozhin en sy huursoldate was in Junie verantwoordelik vir ‘n kortstondige opstand van 24 uur, nadat hulle beheer oorgeneem het van die suidelike Russiese stad Rostov-on-Don en na Moskou opgeruk het. ’n Ondersoek na die ongeluk is aan die gang maar Russiese media berig dat Prigozhin wel dood is. Daar is tans baie bespiegelings oor die oorsaak van die ongeluk. Die Embraer het in vlamme neergestort.