Otavi-boer borgtog geweier, vermeende stropers vrygelaat

‘n Boer wat vandag op ‘n moordklag van ‘n vermeende stroper op sy plaas, die 43-jarige Saul Gariseb, in die Otavi-landdroshof verskyn het, is borgtog geweier. Die 47-jarige Calvin Mahoshi se saak is tot Vrydag uitgestel. Volgens die Namibiese polisie was Mahoshi saam met sy werker op patrollie en spore is gevind. Hulle het die spoor gevat en in die aand op ‘n man afgekom wat weggehardloop het. Die boer het blykbaar twee skote in die lug afgevuur omdat die vermeende stropers op hom en sy werker geskiet het. Sondagoggend het die man en sy werker teruggekeer na die plek waar die skietery plaasgevind het en ‘n liggaam is saam met draadstrikke, ‘n vuurwapen en patroondoppies gevind. Die polisie is ingeroep en die boer is in hegtenis geneem. Twee ander vermeende stropers wat saam met die oorledene was, is aangekla van betreding en vrygelaat op nadat hulle hul skuld-erkenningsboete betaal het.