Storting van Zambiese eiers duur voort, produsente sukkel
Dit wil voorkom asof uitdagings met die storting van goedkoop eiers in die land voortduur. Namibië is heeltemal selfversorgend met plaaslike eierproduksie, maar storting deur Zambiese boere bly ‘n risiko vir die sektor. Volgens ‘n ontleding deur Simonis Storm is daar Zambiese vragmotors wat beweer dat hulle eiers na Namibië bring vir uitvoer en moet dus ry na die hawe in Walvisbaai, maar die eiers word uiteindelik onwettig in die land verkoop. Die Oshikango grens is waar die meeste onwettige handel plaasvind. Die Pluimveevereniging van Namibië het die saak opgeneem en ‘n beroep op strenger grensbeheer gedoen. Dit het egter nie gerealiseer nie en bly dus ‘n risiko vir verkope van plaaslike eierprodusente. Simonis Storm sê produksiekoste het oor die afgelope 12 maande met 22 persent gestyg, maar verkope neig afwaarts. Daar word dus verwag dat produksie op kort termyn relatief matig sal wees, aangesien koste nie aan verbruikers deurgegee kan word nie.