Duisende toeriste op Griekse eiland Rhodos ontruim weens veldbrande
Sowat 19 000 toeriste is oor see en land van die Griekse eiland Rhodos verwyder terwyl veldbrande steeds buite beheer woed. Die regering sê dis die grootste reddingspoging van die aard wat nóg in die land onderneem is. Die veldbrand in die sentrale en suidelike dele van Rhodos, wat baie gewild is onder vakansiegangers, woed sedert Dinsdag. Sterk wind het Sondag pogings om die brand te blus in die wiele gery. Die Britse lugredery Jet2 het alle vlugte na die eiland gekanselleer.